Byvoegmiddels word meer belangrik onder marginale toestande

Deur Dr. Brian de Villiers

June 2024

Byvoegmiddels word dikwels weggelaat of met ’n ongeregistreerde produk vervang met geen negatiewe nagevolge nie. Produsente neem dan aan dat byvoegmiddels nie belangrik is nie of dat ongeregistreerde produkte gebruik kan word. Dit het tot ’n persepsie gelei dat byvoegmiddels foefies is en dat dit nie werklik tot effektiwiteit bydra nie. ’n Mens kan onder optimale toestande wegkom met sulke wanpraktyke omdat daar nie veel is vir die byvoegmiddel om reg te maak nie. Hierdie praktyke word egter onder marginale toestande ontbloot wanneer die gewasbeskermingsproduk (GBP) se effektiwiteit heelwat laer is. Hieronder word watergehalte en humiditeit as voorbeelde bespreek

Watergehalte

Buffers en soutbyvoegmiddels word gebruik om watergehalte aan te spreek. Buffers manipuleer die pH om die behoeftes van insekdoders en ander pH gevoelige GBPe aan te spreek. Soutbyvoegmiddels bind antagonistiese katione en verbeter die effektiwiteit van katioongevoelige onkruiddoders soos glifosaat en kletodim. Wanneer die watergehalte goed is, word die effek van hierdie byvoegmiddels verminder omdat daar min ruimte vir verbetering is. Onder sulke omstandighede kan ongeregistreerde byvoegmiddels net so effektief soos die geregistreerde produk wees. Die GBP toegedien sonder ’n byvoegmiddel sal waarskynlik ook aanvaarbare beheer gee. As hierdie ongeregistreerde praktyke egter herhaal word wanneer die watergehalte swak is, sal dit tot onaanvaarbare pes- en onkruidbeheer lei. Swak watergehalte sal die verkeerde byvoegmiddelkeuse ontbloot!

Humiditeit

Verskeie GBPe word deur humiditeit beïnvloed. Die effektiwiteit van glifosaat word deur lae humiditeitstoestande verlaag, daarom word dit deur die gebruik van sekere tipes herbenatters bevorder. Wanneer humiditeitstoestande optimaal is, kan ’n byvoegmiddel met die verkeerde tipe herbenatter, of ’n produk met te min herbenatter, net so effektief soos die geregistreerde opsie wees. Die rede hiervoor is dat die humiditeit hoog genoeg is om optimale glifosaatopname te behaal, ongeag die tipe of dosis van die herbenatter. Onder lae humiditeitstoestande sal die verkeerde herbenatter of ’n produk wat teen ’n verlaagde dosis toegedien word egter deur swak effektiwiteit blootgestel word. Verkeerde herbenatters onder lae humiditeitstoestande mag selfs die opnametempo tot so ’n mate vertraag dat die glifosaat die blaaroppervlak skroei en gewasskade veroorsaak.

Villa se mening

Die keuse van byvoegmiddel is krities om genoegsame effektiwiteit onder alle toestande te verseker. Die verskil tussen byvoegmiddels word egter altyd onder swak toestande blootgestel, waar die marge vir fout baie minder is. Gebruik net die byvoegmiddel wat op die GBP etiket aanbeveel word. Die versuim om hierdie produk te gebruik sal tot swak onkruid-, plaag-, of siektebeheer lei, veral wanneer toestande marginaal is. Indien hierdie produk nie beskikbaar is nie, kontak die GBP registrasiehouer vir ’n geregistreerde en geskikte alternatief. Kontak jou Villa landboukundige vir meer inligting oor byvoegmiddels en watergehalte.

Share:

OTHER POSTS

Send Us A Message