Tenkmengsel versus in-drom byvoegmiddels

Deur Dr. Brian de Villiers

Augustus 2025

Byvoegmiddels word saam met verskeie gewasbeskermingsprodukte (GBP’e) toegedien
om onkruid-, pes- en siektebeheer, te verhoog en te stabiliseer. Sekere maatskappye sluit die byvoegmiddel in die GBP-formulasie in, terwyl ander verkies om ’n byvoegmiddel aan te beveel wat in die spuitoplossing bygevoeg word. Beide benaderings het voor- en nadele. Villa gebruik ’n kombinasie van die in-drom- en tenkmengselmetodes, afhangend van die spesifieke situasie en etiketaanbevelings. Dit is belangrik om die voordele en beperkings van beide benaderings te verstaan om optimale effektiwiteit van GBP’e te verseker.

Tenkmengsel-benadering

Die hoofvoordeel van die tenkmengsel-benadering is buigsaamheid omdat die byvoegmiddeltipe en -dosis verander kan word na gelang van die situasie. GBP-etikette lys soms meer as een byvoegmiddel, en die produk word op grond van die spesifieke tenkmengsel, omgewingstoestande, plantmorfologie en ander faktore geselekteer. Omdat die byvoegmiddeldosis buigsaam is, stel dié benadering die gebruiker in staat om die hoogste aanbevole dosis vir marginale situasies toe te dien. Die dosis van benatters en olies, wat dikwels op ’n persentasiegrondslag aanbeveel word, kan op grond van watervolume verander word. Die grootste nadeel van hierdie benadering is dat die GBP-registrasiehouer min beheer het oor die eindverbruiker se keuse van byvoegmiddeltipe en -dosis. Dit skep dus die risiko vir foute wat ’n impak op effektiwiteit, verenigbaarheid en gewasskade kan hê.

In-drom benadering

Die vernaamste voordeel van die in-drom benadering is dat die registrasiehouer beheer
het oor die tipe byvoegmiddel wat saam met sy GBP gebruik word. Dit verseker dat die ingeboude byvoegmiddel altyd gebruik sal word en dat die eindgebruiker dit nie kan vervang nie. Daar is egter minder buigsaamheid met hierdie benadering. Die tipe byvoegmiddel kan nie aangepas word om voorsiening te maak vir tenkmengsels, omgewingstoestande en ander relevante faktore nie. Die byvoegmiddeldosis in GBP’e sal ook met verskillende GBP dosisse wissel. Wanneer GBP’e verder op ’n per-oppervlak basis toegedien word, is die byvoegmiddel dosis vas, en dit kan nie vir verskillende watervolumes aangepas word nie. Dit is aanvaarbaar indien die byvoegmiddel se funksie net verband hou met die verhouding tot die GBP. Indien die byvoegmiddel egter ook gebruik word om die spuitdruppel se afspat te verminder, en om behoud en verspreiding te verhoog, is die verhouding van die byvoegmiddel tot die watervolume belangrik.

Villa se mening

Dit is belangrik om by die etiketaanwysings oor byvoegmiddelkeuse te hou, ongeag of dit die tenkmengsel of in-drom opsie is. Alhoewel beide metodes voordele en beperkings het, voel ons dat die buigsaamheid wat deur die tenkmengsel opsie verskaf word, die beste by die Villa-benadering pas. Ons kan nommerpas byvoegmiddels vir spesifieke situasies aanbeveel, om optimale effektiwiteit te verseker. Dit is egter belangrik dat die etiketaanwysings gevolg word om die sukses van hierdie strategie te verseker. Kontak
jou Villa landboukundige vir meer inligting oor byvoegmiddels en watergehalte.

Share:

OTHER POSTS

Send Us A Message