Deur Brian de Villiers
Julie 2026
Water is die draer waarmee ons gewasbeskermingsprodukte (GBP’e) meng om dit egalig oor ’n oppervlak of volume toe te dien. Die persepsie dat water se enigste funksie is om GBP’e te verdun en om dit toe te dien, is egter misleidend omdat dit eienskappe het wat ’n direkte rol in GBP effektiwiteit speel. Hierdie eienskappe sluit beide chemiese en fisiese faktore in wat almal kan bydra tot verlaagde effektiwiteit van die GBP. Dit is belangrik om hierdie eienskappe te verstaan en om dit met die korrekte byvoegmiddels aan te spreek om sodoende effektiewe beheer te verseker.
Eienskappe van water
Spuitwater bestaan nie net uit H₂O-molekules nie, maar bevat ook opgeloste katione. Hierdie katione het ’n invloed op die opname en effektiwiteit van sekere na-opkoms onkruiddoders. Water het ook ’n pH-vlak wat aantoon hoe suur of alkalies dit is, en ’n bufferkapasiteit wat bepaal hoe geredelik die pH gemanipuleer kan word. pH het ’n invloed op die alkaliese hidrolise (chemiese afbreek) van sekere GBP’e en dit speel ook ’n groot rol in die oplosbaarheid en verenigbaarheid van GBP’e en tenkmengsels.
Water se fisiese eienskappe beïnvloed dan die druppelspektrum, wat weer die bedekking van gewasse en onkruide, asook wegdrywing, beïnvloed. Die hoë oppervlakspanning van water veroorsaak druppelafspat, wat verlaagde behoud en bedekking tot gevolg het. Dit beïnvloed ook watter proporsie van elke individuele spuitdruppel met die blaar kontak maak. Water is ’n relatief vlugtige vloeistof wat die verdamping van spuitdruppels op die blaar beïnvloed. Al hierdie eienskappe maak dit een van die belangrikste hindernisse om te oorkom om effektiewe beheer te verkry.
Byvoegmiddels wat water aanspreek
Gelukkig is daar byvoegmiddels wat al hierdie faktore aanspreek. Ammoniumsulfaatbyvoegmiddels elimineer die invloed van opgeloste katione op na-opkoms onkruiddoders. Goeie kwaliteit buffers verlaag die pH tot op vlakke waar alkaliese hidrolise ’n onbeduidende rol speel, ongeag die bufferkapasiteit van water. pH moet met omsigtigheid aangepas word en moet nie tot onoplosbaarheid en onverenigbaarheid bydra nie. Neerslaghulpmiddels manipuleer dan die druppelspektrum om bedekking te verbeter en om wegdrywing te verminder. Benatters en olies verminder druppelafspat, terwyl dit die verspreiding en kontakgebied tussen die spuitdruppel en die blaar vergroot. Verder, met die insluiting van herbenatters, word die verdampingstempo van spuitdruppels verminder en die opnametyd verleng. Die korrekte byvoegmiddelkeuse kan daarom die negatiewe eienskappe van water verminder om effektiewe beheer te verseker.
Villa se mening
Water bly een van die grootste uitdagings wat GBP effektiwiteit beïnvloed. Al die negatiewe eienskappe van water moet met byvoegmiddels aangespreek word om effektiewe toediening en beheer te verseker. Kontak jou Villa landboukundige vir meer
inligting oor byvoegmiddels en watergehalte.
