Benatters en olies

Benatters-en-olies

By Brian de Villiers

Van al die soorte byvoegmiddels is benatters ‘n olies sekerlik dié waaroor daar die meeste verwarring heers. Hulle formulasies is verskillend – benatters is wateroplosbaar en olies vorm weer ’n emulsie in water. Hoekom hulle so misverstaan word, is omdat hulle soortgelyke eienskappe het, naamlik behoud, druppelverspreiding en opname. Daarom word die twee produkte dikwels omgeruil, met swak resultate. Alhoewel hierdie byvoegmiddels soortgelyke eienskappe het, behoort dit met verskillende gewasbeskermingsprodukte (GBP’e) geposisioneer te word. Produk-etikette is normaalweg duidelik oor of ’n benatter of olie gebruik behoort te word, maar nogtans word duur foute nog dikwels gemaak.

 

Posisionering

Wanneer ’n GBP registrasiehouer besluit  om ’n benatter of olie met hulle produk te registreer, geld daar ’n paar belangrike kwessies.  Eerstens moet die formulasie van die GBP in  ag geneem word. GBP’e met wateroplosbare formulasies, soos die oplosbare vloeistowwe  of korrels, is dikwels meer effektief met wateroplosbare benatters. Daarteenoor vaar  die oliegebaseerde GBP’e met byvoorbeeld emulgeerbare- of suspensiekonsentraat-formulasies beter met ’n oliebyvoegmiddel. Tweedens moet tenkmengselkomponente in ag geneem word. Indien twee GBP’e dikwels in die tenkmengsels gebruik word, maar verskillende byvoegmiddelbehoeftes het, moet ’n kompromie gemaak word. Dan word ’n byvoegmiddel gewoonlik gekies wat voordelig vir die sensitiefste produk is, sonder om die ander GBP te benadeel. Registrasiehouers neem ook ander faktore in ag, soos fitotoksisiteit, omgewingstoestande, teiken-onkruide en gewasse. Daarom is dit uiters belangrik om die etiket-aanbevole byvoegmiddel te gebruik omdat baie werk vir die registrasie gedoen is.

 

Uitsonderings op die reël

Daar is egter altyd uitsonderings op die reël. Soms mag onkruiddoders met spesifieke formulasies met die “verkeerde” byvoegmiddel geregistreer wees, byvoorbeeld ’n benatter in plaas van ’n olie. Daar kan baie redes hiervoor wees. Een rede kan die kans op fitotoksisiteit wees. Daarom mag die benatter ’n bietjie minder effektief as die olie op onkruide wees, maar dit is ook die veiligste opsie op die gewas. Dit is uiters belangrik om by die etiket-aanbevole benatter of olie te bly. Versuim om dit te doen kan tot oneffektiwiteit, of in sekere gevalle, tot gewasskade lei. Daar is gewoonlik ’n goeie rede vir ’n byvoegmiddel registrasie, daarom is dit belangrik om die etiket se aanbeveling te volg.

 

Villa se mening

Die besluit oor of jy ’n benatter of oliebyvoegmiddel moet gebruik kan heel verwarrend wees. Moenie die risiko van ’n toediening verhoog deur die verkeerde byvoegmiddel te gebruik nie. Etikette gee gewoonlik ’n goeie aanduiding van watter byvoegmiddels gebruik behoort te word. Kontak jou Villa landboukundige vir meer inligting oor byvoegmiddels en watergehalte.

Share:

OTHER POSTS

Send Us A Message