Deur Dr. Brian de Villiers
Maart 2026
Die Engelse woord “adjuvant,” beteken “om te help.” Daarom word hierdie produkte uitsluitlik gebruik om gewasbeskermingsprodukte (GBP’e) te help om hul volle potensiaal te bereik. Byvoegmiddels verminder die impak van swak weersomstandighede en spuitwater, en sodoende stabiliseer hulle onkruid-, insek-, en siektebeheer oor ’n wye reeks omgewings en omstandighede. Alhoewel die doel van hierdie produkte is om GBP’e te help, kan hulle presies die teenoorgestelde doen indien hulle verkeerd gebruik word. Dít is ongelukkig ’n werklikheid en ons sien dikwels die lelike kant van byvoegmiddels a.g.v. wanpersepsies en wanpraktyke. Daarom is dit belangrik om hierdie produkte korrek te gebruik om optimale effektiwiteit te verseker, sonder om enige ongewensde gevolge te veroorsaak.
Wanneer byvoegmiddels help
Van die oomblik wat GBP’e in die spuitmengsel gevoeg word, tot wanneer hulle werking op die blaar voltooi is, word hulle aan nadelige toestande blootgestel. Dit sluit swak watergehalte, lae lugvog, wasagtige en haaragtige blare, en verskeie ander struikelblokke in. Buffers word gebruik om pH te verlaag en sodoende alkaliese hidrolise te verminder, terwyl die doel van soutbyvoegmiddels is om opgeloste antagonistiese katione aan te spreek. Neerslaghulpmiddels manipuleer die druppelspektrum om meer produk tot by
die gewas of onkruid te kry. Benatters en oliebyvoegmiddels verhoog bedekking deur te keer dat te veel spuitdruppels van die blaar afspat. Dit versprei ook die druppel op die blaar om ’n groter kontakoppervlak te skep, en hidreer die wasagtige lae om met die opnameproses te help. Wanneer al hierdie byvoegmiddels korrek en op ’n verantwoordelike wyse gebruik word, verhoog dit effektiwiteit en stabiliseer die aktiwiteit van die GBP oor verskeie omgewings en waterbronne.
Wanneer byvoegmiddels skadelik is
Byvoegmiddels is voordelig en dit sal beheer verhoog, maar indien dit nie korrek gebruik
word nie, sal dit skade doen. Buffers en soutbyvoegmiddels wat die spuitoplossing pH te veel verlaag, sal onverenigbaarheid, onoplosbaarheid, en swak effektiwiteit veroorsaak. Neerslaghulpmiddels sonder enige ander bestanddele in die formulasie word soms verkeerdelik gebruik om ander byvoegmiddels soos benatters en olies te vervang. ’n Mens moet besef dat wanneer sekere neerslaghulpmiddels gebruik word, benatters en olies steeds nodig mag wees. Deur een tipe byvoegmiddel met ’n ander te vervang, word die kans vir oneffektiwiteit verhoog. Een van die algemeense wanpraktyke is dat die aanbevole benatter of olie met ’n ander produk vervang word. Onthou dat verskillende
benatters en olies se retensievermoë, spreivermoë en opnamevermoë verskil. Deur die geregistreerde byvoegmiddel met ’n ander produk te vervang, kan al hierdie prosesse benadeel word en die kans vir oneffektiwiteit en gewasskade drasties verhoog word.
Villa se mening
Gebruik asseblief byvoegmiddels soos per etiketaanbevelings, want alhoewel sulke middels GBP’e help om hul potensiaal te bereik, kan dit ook effektiwiteit verlaag as dit verkeerd gebruik word. Kontak jou Villa landboukundige vir meer inligting oor byvoegmiddels en watergehalte.