Deur Dr. Brian de Villiers
April 2025
Gewasbeskermingsprodukte (GBP’e) word teen ’n dosis geregistreer wat in staat is om die betrokke siekte, pes of onkruid te beheer. Indien die dosis verlaag word, sal die beheer geïmpakteer word, en die gevolge sal ernstig wees. Dieselfde beginsel is
op byvoegmiddels van toepassing. Byvoegmiddels word gebruik om GBP’e in staat te stel om meer van hul potensiaal te bereik. Indien die verkeerde of te min byvoegmiddel gebruik word, sal die GBP nie sy potensiaal bereik nie, en die beheer sal swak wees. ’n Mens mag met ’n lae byvoegmiddeldosis wegkom in perfekte toestande, maar die gevolge van hierdie fout sal sigbaar word wanneer die toestande marginaal is. Dit is belangrik om te verseker dat die byvoegmiddel wat jy gebruik, effektief onder alle toestande en met alle waterbronne is. Ons gebruik die voorbeeld van ammoniumsulfaatbyvoegmiddels om hierdie beginsel te illustreer.
Katioon antagonisme
’n Effektiewe waterkondisioneerder behoort teen ’n dosis gebruik te word wat die antagonisme van ten minste kalsium, magnesium, natrium en kalium in spuitwater kan oorkom. Gelukkig kan die sulfaat anioon van ammoniumsulfaat al vier hierdie katione
hanteer, en dit word teen ’n hoog genoeg dosis aanbeveel. ’n Mens moet in gedagte hou dat indien spuitwater 1000 mg/ℓ van hierdie vier katione gekombineerd bevat, is daar 100 g antagonistiese katione in elke 100 liter spuitwater. Jy sal dus ’n hoog genoeg dosis waterkondisioneerder benodig om hierdie katione te neutraliseer. Baie navorsing is op die effektiwiteit van ammoniumsulfaat gedoen, so die Villa etiketdosis sal al hierdie katione effektief neutraliseer om optimale onkruidbeheer te verseker. Dit is waarom Villa die gebruik van ammoniumsulfaat sterk aanmoedig, omdat die onvermoë om een van hierdie katione aan te spreek tot oneffektiewe beheer kan lei.
Ander voordele
Dit is belangrik om te besef dat ammoniumsulfaat twee ander voordele het, buiten die neutralisering van antagonistiese katione. Die eerste is dat van die Villa ammoniumsulfaat-byvoegmiddels geregistreer is om die antagonisme van fenoksieonkruiddoders op glifosaat te oorkom. Dié eienskap is geweldig belangrik, omdat sulke mengsels so gewild is. Dit is dus krities dat die effektiwiteit nie beïnvloed word nie. Tweedens word die rol van die ammonium-katioon dikwels onderskat. Dit speel ’n noodsaaklike rol in die opnameproses om die effektiwiteit van alle toedienings te verbeter. Dit sluit ook gevalle in waar katioon-antagonisme nie ’n probleem is nie. Ammoniumsulfaat is daarom nie net ’n waterkondisioneerder nie. Dit speel ook ’n noodsaaklike rol om die antagonisme van sekere onkruiddoders te verminder, en dit help met die opnameproses. Dit is ’n onmisbare byvoegmiddel saam met die Villa onkruiddoders.
Villa se mening
Slegs Villa-byvoegmiddels is geskik vir gebruik met ons onkruiddoders waar waterkondisionering aanbeveel word. Hierdie standpunt word ondersteun deur ’n magdom internasionale en plaaslike navorsing en tegniese kundigheid. Ammoniumsulfaat-byvoegmiddels help hierdie onkruiddoders om hul volle potensiaal te bereik met alle waterbronne en met sekere tenkmengsels. Die enigste uitsondering is modderige water omdat waterkondisioneerders nie die vermoë het om dit genoegsaam aan te spreek nie. Kontak jou Villa landboukundige vir meer inligting oor byvoegmiddels en watergehalte.