Deur Brian de Villiers
Dit is belangrik om eienskappe van gewasbeskermingsprodukte (GBP’e) wat hul effektiwiteit beperk, met die korrekte byvoegmiddel tipe aan te spreek. Daar is ses groepe byvoegmiddels waarvan die aktiewe bestanddele ses verskillende funksies vervul, naamlik buffers, soutbyvoegmiddels, neerslaghulpmiddels, benatters, olies en kleefmiddels. Elk van hierdie groepe spreek spesifieke kwessies aan en kan óf met ’n wye reeks GBP’e gebruik word, óf is meer gespesialiseerd om saam met spesifieke produkte
toegedien te word. Ons vergeet egter dikwels dat die byvoegmiddel-dosis net so belangrik soos die aktiewe bestanddeel is. Dit is sinneloos om die korrekte byvoegmiddeltipe te gebruik as die dosis te laag is. Ons gebruik soutbyvoegmiddels en
benatters as voorbeelde om dit te illustreer.
Soutbyvoegmiddels
Spuitwater bevat tipies kalsium, magnesium, natrium, en kalium. Al vier hierdie katione is
antagonisties teenoor glifosaat en verskeie ander na-opkoms onkruiddoders. Die soutbyvoegmiddel ammoniumsulfaat word die meeste gebruik om hierdie katione aan te spreek, maar produkte met ander aktiewe bestanddele is ook beskikbaar. Dit is baie belangrik dat die soutbyvoegmiddel teen ’n dosis toegedien word waar al hierdie katione geneutraliseer word. Verskeie streke in Suid-Afrika het uiters harde of brak water en die byvoegmiddel-dosis behoort hierdie katioonvlakke te kan neutraliseer. Dit is waarom ammoniumsulfaat, teen die korrekte dosis, so ’n suksesvolle soutbyvoegmiddel is. Die reaksie waardeur ammoniumsulfaat hierdie katione bind is ook ’n volledig onomkeerbare reaksie, wat dit ’n uiters effektiewe byvoegmiddel maak. Met waterkondisionering is byvoegmiddel-dosis daarom net so belangrik as om die korrekte aktiewe bestanddeel te gebruik.
Benatters
Benatters is aktief in drie prosesse op die blaar, naamlik behoud, druppelverspreiding en opname. Omdat hulle oppervlakspanning verlaag, beperk hulle die afspat van druppels en verhoog die verspreiding van die GBP. Hierdie twee prosesse is noodsaaklik om bedekking te verseker. Om ’n laer dosis benatter toe te dien sal die bedekking van die middel op die plant nadelig beïnvloed en dus effektiwiteit verlaag. Verder sal die opnametempo en -hoeveelheid ook verminder word. Maak dus seker dat die benatter teen die geregistreerde dosis toegedien word. Dit is veral belangrik vir multi-komponent byvoegmiddels wat ook ’n benatter bevat, insluitend sekere buffers en soutbyvoegmiddels. Maak seker dat genoeg benatter teen die geregistreerde dosisreeks van die multi-komponent byvoegmiddel toegedien word.
Villa se mening
Byvoegmiddel dosis is net so belangrik soos die aktiewe bestanddeel. Dit is noodsaaklik om die korrekte produk teen die korrekte dosis te gebruik ten einde GBP-effektiwiteit te verseker. Maak altyd seker dat multi-komponent byvoegmiddels genoeg van elke aktiewe bestanddeel bevat om effektief te wees. As die byvoegmiddeldosis nie die vereistes van die toediening vervul nie, moet ’n alternatiewe geregistreerde produk gebruik word. Kontak jou Villa landboukundige vir meer inligting oor byvoegmiddels en watergehalte.
