Deur Dr. Brian de Villiers
Januarie 2026
In gesprekke met ons vennote hoor ons soms dat gebruikers die byvoegmiddel wat geregistreer is vir gebruik saam met ’n bepaalde gewasbeskermingsproduk (GBP) met ’n ander produk vervang het en dat die beheer van die GBP nietemin aanvaarbaar is. Sulke gevalle mag dalk die indruk skep dat byvoegmiddels almal dieselfde is en dat die geregistreerde byvoegmiddel met enige ander produk vervang kan word. Dit is ’n riskante aanname omdat daar onder optimale toestande dalk weinig vir ’n byvoegmiddel is om reg te maak. Waar ons werklik betekenisvolle verskille tussen byvoegmiddels sien, is wanneer toestande of watergehalte sub-optimaal is. Dit kan tydens ’n sekere seisoen gebeur, of selfs tussen verskillende plase of waterbronne binne dieselfde seisoen. Hierdie maand bespreek ons waarom dit ’n groot risiko is om die geregistreerde byvoegmiddel met ’n ander produk te vervang.
Watergehalte
pH, bufferkapasiteit en opgeloste katione dra almal tot watergehalte by. As die antagonistiese katioonvlakke in water laag is, het waterkondisioneerders min om reg te maak en daar mag dalk nie ’n groot verskil tussen die werking van verskillende byvoegmiddels wees nie. Die katioonvlakke en verhoudings kan egter baie verskil van een waterbron na ’n ander. Dít kan ’n beduidende invloed op effektiwiteit en die verskil in prestasie tussen byvoegmiddels hê. Dieselfde beginsel is van toepassing op pH en bufferkapasiteit. ’n Alternatiewe buffer mag net so effektief soos die geregistreerde produk wees wanneer bufferkapasiteit aanvaarbaar is. Daar sal egter ‘n groot verskil in pH-beheer wees wanneer die bufferkapasiteit geweldig hoog of laag is. Alhoewel die verskille tussen waterkondisioneerders deur swak waterkwaliteit blootgestel word, sien ons dikwels ’n sigbare verskil selfs met goeie gehalte spuitwater. Die keuse van waterkondisioneerder is dus krities vir aanvaarbare beheer.
Weersomstandighede
Verskeie weersomstandighede het ’n impak op die prestasie van GBP’e. Humiditeit is een van hierdie omstandighede omdat dit die afdroogtyd van spuitdruppelresidue beïnvloed. Lae humiditeit en ’n vinniger afdroogtyd verminder die beskikbare opnametyd vir sistemiese onkruiddoders soos glifosaat. Dit is waarom sekere byvoegmiddels
herbenatters bevat om die afdroogtyd van spuitdruppels te verleng. Die probleem is dat nie alle byvoegmiddels dieselfde chemie of hoeveelheid herbenatter bevat nie. Wanneer toestande optimaal is, mag die byvoegmiddel wat minder herbenatter bevat ’n soortgelyke effek as die geregistreerde produk hê omdat die humiditeitsvlakke hoog
genoeg is vir die opname van die onkruiddoder. Wanneer humiditeitsvlakke egter daal, sal die verskil tussen hierdie byvoegmiddels ontbloot word. Dit kan selfs op dieselfde dag gebeur!
Villa se mening
Gebruik altyd die geregistreerde byvoegmiddel. Moenie aanneem dat indien ’n produk net so effektief soos die geregistreerde byvoegmiddel is, dit die geval sal wees vir alle weersomstandighede of waterbronne nie. Die verkeerde byvoegmiddel kan selfs wisselvallige GBP beheer op dieselfde dag gee. Die risiko is eenvoudig nie die moeite werd nie. Kontak jou Villa landboukundige vir meer inligting oor byvoegmiddels en watergehalte.