Deur Brian de Villiers
Julie 2025
Onkruid-, siekte-, en insekbeheertegnologie het oor die afgelope tyd groot vordering gemaak. Dit, tesame met moderne toerusting, het ’n omwenteling in toedieningstegnologie en effektiwiteit teweeggebring. Ondanks hierdie tegnologiese vooruitgang word verkeerde besluite oor tenkmengsels nog dikwels geneem. By tye gebeur dit selfs dat sommige mense met hierdie verkeerde besluite wegkom, terwyl ander die prys vir dieselfde besluit betaal. Daar is verskeie redes vir hierdie teenstrydigheid, maar spuitwater speel ’n rol. Watergehalte en -volume kan ’n betekenisvolle invloed op verenigbaarheid, effektiwiteit, en gewasskade hê. Water sal verkeerde keuses ontbloot en kan die verskil tussen aanvaarbare en onaanvaarbare beheer beteken.
Watergehalte
Watergehalte word hoofsaaklik deur opgeloste katione, pH en bufferkapasiteit bepaal. Terwyl sekere produsente soms mag wegkom daarmee om die verkeerde waterkondisioneerder te gebruik wanneer die watergehalte goed is en weerstoestande ideaal is, sal ander die prys betaal met oneffektiewe onkruidbeheer wanneer die watergehalte swakker is. Sekere buffers mag minder effektief wees saam met water wat ’n hoë bufferkapasiteit het. Dit sal die alkaliese hidrolisevan sekere insekdoders versnel en swak beheer veroorsaak. Ander produsente sal die korrekte pH met dieselfde buffer bereik wanneer die water ’n laer bufferkapasiteit het. Indien uiters suur produkte in laag-gebufferde water gebruik word, kan dit sekere tenkmengsels destabiliseer en onverenigbaarheid veroorsaak in die vorm van verstopte siwwe en spuitpunte. Dieselfde suur produkte sal ’n baie kleiner effek in hoog gebufferde water hê, en die produsent mag dalk met hierdie praktyk wegkom. Dit is daarom belangrik om te hou by etiketaanbevelings omdat watergehalte hierdie problematiese tenkmengsels kan ontbloot.
Watervolume
Dit is algemeen om laer watervolumes met moderne toerusting toe te dien. Terwyl dit effektief gedoen kan word, is dit krities dat etiketaanwysings gevolg word en dat daar voldoende bedekking is. Watervolume ontbloot egter gereeld riskante tenkmengsels. Sekere gewasbeskermingsprodukte (GBP’e) en tenkmengsels is minder oplosbaar teen ’n lae pH. Terwyl ’n produsent wat ’n hoër watervolume toedien, hiermee mag wegkom, mag ’n ander produsent wat ’n laer watervolume toedien, die prys met fisiese onverenigbaarheid betaal. GBP’e wat ’n benatter of oliegebaseerde byvoegmiddel in die formulasie bevat, en op ’n per area-grondslag toegedien word, sal ’n hoër byvoegmiddelkonsentrasie in ’n lae watervolume tot gevolg hê. Terwyl dit gewoonlik nie ’n kwessie is nie, kan dit probleme veroorsaak met ’n tenkmengsel wat reeds op die rantjie van gewasskade is. Met ’n hoër watervolume sal dit nie noodwendig ’n probleem wees nie.
Villa se mening
Terwyl baie faktore ’n rol speel as dit kom by verkeerde tenkmengsels, kan spuitwater ’n effek hê. Watergehalte en watervolume sal gereeld riskante tenkmengsels ontbloot. Die gevolge kan rampspoedig wees, met onverenigbare tenkmengsels, oneffektiwiteit, en gewasskade. Bly asseblief by etiketaanbevelings om hierdie kwessies te vermy. Kontak jou Villa landboukundige vir meer inligting oor byvoegmiddels en watergehalte.
